Het Jy My Lief?

Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: "Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?" "Ja, Here," antwoord hy Hom, "U weet dat ek U liefhet." Hy sê toe vir hom: "Laat my lammers wei.” Jesus vra hom weer 'n tweede keer: "Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?" "Ja, Here," antwoord hy Hom, "U weet dat ek U liefhet." Hy sê toe vir hom: "Pas my skape op.” Jesus vra hom die derde keer: "Simon seun van Johannes, het jy My lief?" Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: "Het jy My lief?", en hy antwoord Hom: "Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet." Hy sê toe vir hom: "Laat my skape wei” (Johannes 21:15-17).

Hierdie toneel waar Jesus sy dissipels by die see vir ontbyt ontmoet het, het my al dikwels tot nadenke gestem. Hierdie was waarskynlik die belangrikste oomblik in Petrus se lewe want hierdie gesprek sou sy toekoms bepaal het as óf die van ‘n apostel, óf die van ‘n visserman.

Voordat Jesus egter vir Petrus en die ander begin vrae vra het, het Hy eers in hulle fisiese en emosionele behoeftes voorsien. Eerstens het Jesus die frustrasie van ‘n nag se futiele arbeid sonder enige opbrengs, weggeneem deur aan hulle ‘n rekord vangs te gee. Tweedens het Hy vir hulle ‘n ete voorberei en so hulle honger gestil. Johannes sê: “Toe hulle klaar geëet het…”. Hoe ‘n liefdevolle, sensitiewe en versorgende Verlosser het ons nie. Een wat selfs verstaan dat dit vir ons moeilik is om op geestelike sake te konsentreer as ons mae grom! Hy het inderdaad medelye met ons swakhede.

Ek bid dat ons van Hom mag leer en vir mekaar in die fisiese wêreld sal sorg sodat die pad maklik is vir die geestelike. Het Jesus nie die reg gehad om konfronterend, kwaad en gefrustreerd te wees met Petrus nie? Natuurlik het Hy. Maar Hy het eerder liefdevol in die behoeftes voorsien van hulle wat van Hom weggevlug het en Hom in sy uur van nood alleen gelaat het. Hoeveel keer storm ons nie in met ‘n konfronterende houding en verberg daardeur die werklike knelpunte nie? Ons plaas die oortreder onmiddellik op sy verdediging in plaas daarvan dat hy in ‘n posisie is waar hy homself kan ondersoek. Let ook op dat dit die opgestane, verheerlikte en almagtige Christus is wat neerbuig en die ete vir sy swak volgelinge voorberei! Mag ons ook leer wat dit werklik beteken om mekaar se diensknegte te wees – om selfs hulle te bedien wie in ons oë mislukkings in die Koningryk is.

Ek kan my net die dosyne vrae indink wat ek Petrus sou wou gevra het indien ek in die Here se plek sou wees. (Alhoewel die gesprek tussen Jesus en Petrus was, is daar geen twyfel dat Petrus in effek die verteenwoordiger was van die ander wat ook teenwoordig was.) Ek sou vrae soos die volgende gevra het: Petrus, hoe kon jy my verloën het? Petrus, besef jy wat jy gedoen het? Petrus, sê asseblief dat jy dit nie bedoel het nie. Of miskien sou ek hom gevra het of hy iets geleer het en of hy miskien nou die teologiese gevolge beter verstaan van sy verloëning en die dood, begrafnis en opstanding. Maar Jesus het net een vraag: “Het jy My lief”. Vandag is hierdie steeds die enigste relevante vraag. Net soos “in hierdie twee gebooie … die hele wet en die profete saamgevat [is]” (Matteus 22:40), word alles verder bepaal deur die antwoord op hierdie enkele vraag.

As ons Hom liefhet, dan sal ons Sy Woord en Sy mense liefhê en aan Sy gebooie gehoorsaam wees. Die omgekeerde is egter nie waar nie. Sommige het Sy Woord lief, of sy mense. Sommige doen selfs al die regte dinge, maar hulle het HOM nie eerste lief nie. “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks” (1 Korintiërs 13:1-3).

Is dit moontlik om al hierdie dinge te doen en Hom nog steeds nie lief te hê nie? Jy kan dit maar glo! Daar is baie wat die prediking, mense, teologie, byeenkomste, aanbidding ens. liefhet terwyl hulle nie vir Jesus eerste liefhet nie! Daar is selfs baie mense in die bediening wat die bediening meer liefhet as wat hulle vir Jesus liefhet!

Jy sê dat dit nie moontlik is nie! Ja dit is moontlik. Die kerk van Efese waarna in Openbaring 2 verwys word, was juis so ‘n kerk. Hulle het alles in plek gehad. Hulle leerstellings was reg. Hulle het die onderskeid tussen ware en valse apostels geken. Hulle het alle byeenkomste bygewoon en hulle het selfs baie hard vir die kerk gewerk. Maar Jesus het een beskuldiging teen hulle ingebring – hulle het hulle eerste liefde verlaat. Let op, hulle het dit nie verloor nie (soos die meeste Christene hierdie vers aanhaal nie), maar hulle het dit verlaat. Die verskil tussen verloor en verlaat is dat die een ‘n rasionele besluit is terwyl die ander ‘n onwillekeurige handeling is. Ons kies om iets te verlaat maar wanneer ons iets verloor, gebeur dit gewoonlik sonder dat ons aktief daarby betrokke is. Die kerk van Efese het ‘n besluit geneem om hulle eerste liefde te verlaat.

Wanneer Jesus van die “eerste liefde” praat – sien die Ou Afrikaanse vertaling – het Hy nie daardie oorweldigende aanvanklike opgewondenheid en ywer in gedagte wat hulle gehad het pas nadat hulle tot bekering gekom het nie. Met “eerste” word nie bedoel eerste in tyd nie, maar eerste in prioriteit. Met ander woorde, Jesus is nie meer hulle nommer een liefde nie. Wat hulle nommer een liefde moes gewees het, is nou onttroon deur ‘n ander liefde. ‘n In diepte studie van die gedeelte openbaar dat die regte leerstellings, die Bybel, aanbidding, liturgie, kerkorde en ‘n magdom ander godsdienstige dinge die plek van Jesus Christus in die harte van die mense ingeneem het.

Dit is belangrik om op te let dat die verlaat van jou eerste liefde nie ‘n beuselagtigheid is wat geïgnoreer of weg verduidelik kan word nie. Jesus sê dat hulle geval het! Dit is meer as om net te struikel – hulle was nou plat op hulle gesigte en hulle het alles verloor ten spyte van die feit dat daar nog baie ander dinge was waarmee hulle gespog het. Ja, baie mense mag dalk die regte dinge doen en selfs die regte dinge glo, maar hulle het steeds geval.

My vriend, laat my toe om aan jou dieselfde vraag te vra: Het jy regtig die Here Jesus lief en is Hy die nommer een in jou lewe? As jy enige iets meer liefhet as vir Hom, dan het jy geestelik geval. En as dit so is, dan roep die Here Jesus ook vir jou, net soos Hy die Efesiërs geroep het, om jou te bekeer. Dit beteken ‘n omkeer sodat alle ander dinge tot ‘n tweede plek teruggeskuif word en Jesus weer nommer een posisie in jou lewe inneem.

DEEL 2

Die feit dat Jesus vir Petrus drie keer gevra het of hy Hom liefhet (Johannes 21:15-17) hou waarskynlik verband met die feit dat Petrus vir Christus drie keer verloën het. Jesus het spesifiek vir Petrus uitgedaag omdat dit Petrus was wat in sy kenmerkende voortvarendheid gesê het: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie” (Markus 14:29). Jesus het hom Simon, die seun van Johannes genoem, ‘n naam wat Hy net op twee ander geleenthede gebruik het. Die eerste was tydens Petrus se roeping in Johannes 1:42, en die tweede na Petrus se geïnspireerde belydenis by Sesarea-Filippi (Matteus 16:17). By beide Sesarea-Filippi en hier op strand, herinner Jesus vir Petrus daaraan dat hy net ‘n man is, en die seun van ‘n man. Dit dien tot groot troos dat Hy nie van ons verwag om superwesens te wees nie. Hier herinner Hy Petrus daaraan dat hy maar net ‘n mens is en dat dit ‘n integrale deel van menswees is dat mense swak is. Dit is nie ‘n verskoning om in sonde te volhard nie, maar indien ons sou misluk blyk dit dat ‘n genadige en liefdevolle Verlosser ons broosheid verstaan en ons nog ‘n geleentheid gee om reg te maak.

In die eerste twee vrae het Jesus vir Petrus gevra of hy agape (goddelike) liefde vir Jesus het en Petrus het geantwoord dat hy philio (broederlike) liefde vir Jesus het. Met die derde vraag het Jesus gevra of hy philio liefde het. Baie lesers verstaan nie die gebruik van die twee woorde nie en sien dus op Petrus neer omdat hy net ‘n tweederangse liefde bely. Maar die feit dat Petrus philio liefde bely en nie agape liefde nie, dui op die diep geestelike verandering wat in Petrus se hart gekom het. Voor die kruisiging sou Petrus verseker geantwoord het: “natuurlik agape ek U, wat ‘n vraag.” Hierdie sou Petrus se natuurlike reaksie gewees het, net soos sy voorbarige antwoord dat “al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.

Die blote feit dat Petrus die woord philio gebruik dui op ‘n man wat van aangesig tot aangesig gekom het met sy vleeslike swakhede. Dit is opgeteken dat nadat Petrus vir Jesus die derde keer verloën het, het hy uitgegaan en bitterlik gehuil. Vir my was hierdie die keerpunt in Petrus se lewe. Petrus het verander omdat hy waarskynlik vir die eerste keer in sy lewe werklik besef het hoe swak hy inderwaarheid is. Gevolglik was die Petrus tydens die ontbyt by die see nie meer die voortvarende en selfvoldane Petrus van vroeër nie, maar ‘n gebroke en nederige man – iemand wat geweet het dat hy nie aanspraak kan maak op agape nie maar bloot philio liefde.

Het jy nog vertroue in jou vermoë om by die Here te staan, om Hom te agape en om Hom te volg, selfs as ander swak is? Of sal jy eerder soos Paulus in jou swakhede roem, welwetende dat slegs wanneer ons niks is, Sy krag en sterkte in ons swakheid volmaak word (2 Korintiërs 12:9). Hierdie is ‘n les wat nie in die gemak en beskutting van die kerk en erediens geleer kan word nie. Dit is ‘n realiteit wat slegs tot ons deurdring wanneer ons in die eensaamheid van mislukking en rampspoed voor die Here ween. Dit is hartseer om dit te sê, maar voordat ons nie tot hierdie punt gekom het nie, is al ons woorde van lofprysing en toewyding en die beloftes van getrouheid net leë woorde wat ongetoets is deur die vuur van vervolging en versoeking.

As gevolg van Petrus se woorde het Jesus hom opdrag gegee en gestuur. Jesus het nie vir die volmaakte antwoord gewag nie. Al wat Hy wou gehad het, en steeds wil hê, is ‘n realistiese en eerlike antwoord. Op grond van Petrus se eerlikheid het Hy lammers en skape in Petrus se sorg toevertrou. Dit sal goed wees as ons vandag ook hierdie ondersoekende vrae sou stel aan elkeen wat van voorneme is om die bedieninge van ‘n leraar, ouderling of herder te betree. Voordat iemand enige tipe van bediening betree, dan moet ons seker maak dat hulle gekwalifiseerd is daarvoor. Alhoewel vaardigheid, teologiese kennis, mensgerigdheid, begaafdheid en opleiding almal baie belangrik is, is daar een kwalifikasie wat bo almal uitstaan. Dit is doodeenvoudig die vraag: “Het jy My lief?” Iemand kan al die gawes, vermoëns en vaardighede in die wêreld hê, maar as hy nie eerstens en bo alles vir Jesus liefhet nie, dan word hy vir enige en alle bedieninge gediskwalifiseer.

Petrus moes sy liefde vir Jesus gedemonstreer het deur na die skape om te sien. Daarom, wat ons ook al aan die kerk doen, doen ons aan die Here. Saulus het die kerk vervolg maar Jesus het gesê dat hy Hom vervolg het (Handelinge 9:5). Jesus het ook gesê: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matteus 25:40). Dit is onmoontlik om Jesus lief te hê en nie daardie liefde prakties te wys deur die ander heiliges lief te hê nie. Maar weereens, as hierdie liefde vir ons broeders nie voortvloei vanuit die liefde wat ons eerstens vir die Here het nie, dan is dit dooie werke en het dit geen waarde nie.

Mag ek aan jou dieselfde vraag vra? Het jy die Here Jesus lief? Is Hy die nommer een in jou lewe? Kan jy werklik die woorde van die lied “Neem die wêreld, gee my Jesus” eggo? As jy die een persoon moet kies vir wie jy bereid sal wees om alles en almal voor op te offer, sal daardie keuse van jou op Jesus val?

Miskien besef jy dat jy nie die Here Jesus Christus eerste en volkome liefhet nie. Miskien wag jy vir daardie emosionele belewenis wat jou hart gevange sal neem of miskien soek jy weer daardie aanvanklike opgewondenheid en ywer wat jy vir die Here gehad het. Ek dink jy mors jou tyd. Om lief te hê is ‘n besluit en ons moet kies om Hom eerste lief te hê en om Hom bo alles lief te hê.

Een van die redes hoekom mense nie die Here so liefhet as wat hulle veronderstel is nie, is omdat hulle Hom nie ken nie. Hulle het geromantiseerde idees van Hom wat voortvloei uit sentimentele liedjies en oppervlakkige prediking. Wanneer ons Hom werklik leer ken soos wat Hy Hom in sy Woord openbaar, kan ons nie anders as om Hom lief te hê nie. Wanneer ons begin om iets te verstaan van Sy onmeetbare groot genade in ons redding, en dat ons sonder Hom as ellendige en miserabele sondaars reguit oppad hel toe is, dan is liefde die enigste redelike reaksie. Maar ons het Hom nie lief nie omdat ons, soos ons somtyds in ons arrogansie dink, dit verdien om gered te word en dat ons die een of ander inherente goedheid het wat Sy dood waardig is. Dit is net ‘n leuen. Ons moet nuwe insig kry in God se Verlossingsplan sodat ons weer na ons eerste liefde kan terugkeer.

Jesus het gesê dat dit diegene is vir wie daar baie sondes vergewe is, wat baie liefde bewys (Lukas 7:47). Ons het baie sondes wat vergewe is, maar ongelukkig besef ons nie hoeveel nie en hoe groot die prys was wat Jesus daarvoor aan die kruis betaal het nie. Dit is eers wanneer ons die Heilige Gees toelaat om ons deur die Woord bewus te maak van hierdie grootse waarhede, dat ons kan begin om te begryp hoe groot God se liefde vir ons is. Wanneer dit begin om te gebeur kan ons nie anders as om met ‘n diep en innige liefde en uiterste waardering vir sulke grote genade, begenadiging en liefde te antwoord nie.

Kyk hoe Sy hand, Sy hoof, Sy voet
Sy smart en liefde saam vertoon;
Hoe liefde en smart mekaar ontmoet,
Hoe doringvlegsels Hom daar kroon!

Die hele wêreld sou voorwaar
Daarvoor ‘n nietige offer wees!
‘n Liefd’ so God’lik, wonderbaar,
Eis alles – liggaam, siel en gees!